? Husse

SaphiraSaphira

Janetta Kannenberg, ook bekend as Saphira, is ‘n merkwaardige vrou wat al ‘n geruime tyd lank mense se harte en lewens aanraak deur haar energie. Ten spyte van die feit dat sy gestremd is, styg sy uit bo ons mense waarmee niks fisies skort nie. Sy het net so 1% sig aangesien sy Retinitus Pigmentosa (RP) het. Hierdie oogkondisie het vroeg reeds in haar lewe gevestig en tot op hede is daar nog nie ‘n gepaste deurbraak gemaak om gesig te herwin nie. Die toestand kry haar egter nie onder nie!

 

...die digter

In 1995 het Janetta gevoel dat die tyd reg is dat sy haar gedigte met die samelewing wil deel. Husse Beperk is geregistreer. Haar gedigte is in klein digbundeltjies gebind onder die naam “Husse Met Lang Gedagtes”. Die keuse vir hierdie benaming, het gespruit uit die klassieke “husse met lang ore” – ‘n volksuitdrukking wat van ouds af gebruik word vir nuuskierige kinders. Wanneer ‘n kind sou vra: “Wat is daar binne?” en grootmense nie eintlik wou hê dat die kind regtig moet weet nie, was die antwoord: “Husse met lang ore”…

Haar gedigte het vinnig gewildheid verwerf deur uitstallings by vlooimarkte asook deur “word of mouth”. Met gelang van tyd, wou mense meer weet oor haar gedigte en ook oor haar as mens. Kort voor lank, was sy genooi om praatjies te lewer by geleenthede – juis om mense te inspireer deur haar gedigte en die storie daar agter.

 

...die inspirerende spreker

Hierdie vrou beskik oor ‘n gawe – ‘n vermoë – om ‘n gehoor te laat skuinsskop, sit en luister na wat sy te sê het.

Elke mens, van kind tot bejaarde, kan iets put uit haar praatjies. Of jy vrou is of ‘n man – maak nie saak watter rassegroep jy in val nie – jy sal daar uitstap met iets goeds. Dit is Janetta se strewe – om iets te kan doen en iets te kan gee vir elke individu wat deel uitmaak van die samelewing.

Elke mens is uniek en het ‘n rol in die wêreld. Elke persoon behoort trots te wees op sy menswees en homself te versorg; fisies en geestelik.

Janetta is ‘n ware inspirasie omdat sy gestremd is, maar nog steeds haarself toelaat om te groei. Sy deel graag haar eie ervaringe uit die lewe met ander en sy deel ook graag dit wat sy daaruit kon leer.

 

Husse

 

Husse  met lang ore . . .

Saphira se gedigte is reeds geruime tyd in klein digbundeltjies beskikbaar. Sy noem haar gedigte "Husse met lang gedagtes". Wel, mense wou meer weet oor Husse – hoe hulle dan lyk - en die kunstenaar in haar het terug gegaan en met fyn beplanning is die konkrete Hus gebore!

Die woord "Hus" het sy oorsprong in Holland. Dit beteken eintlik troeteldier. Die feit dat die volksmond hul beskryf met lang ore, het daartoe gelei dat Husse nou wel lang ore het. Hulle is sag en snoesig, maar wees versigtig dat jy dit nie met ‘n haas verwar nie. Hulle is nie hase nie. Husse het glad nie oë nie, want hulle kyk met hul harte. Ook nie monde nie, so hulle praat nie met geluide nie, maar wel met hul gedagtes. Met hul lang ore luister Husse graag. ‘n Hus het wel n bril, maar omdie waarheid te sê, is dit om te weet watter kant is voor!

Hulle bly in boeke en pak letters uit om woorde te bou. Die mooi in die lewe maak ‘n Hus gelukkig en vrolik, soos blomme, lig en lug, om te speel, mooi musiek en ook eerlikheid en opregtheid.

Natuurlik is daar ook ‘n negatiewe karakter – Die Horrie! Niks in die lewe is net altyd reg en mooi nie en hierdie karakter stel die ongeluk, negatiwiteit en lelik voor. Dit maak deel uit van die lewe, maar dit is hoe mens dit sal hanteer, wat dit weer positief kan laat draai.

Oor die jare het die reeks van Hus-karakters gegroei.